Plantkunde: Botaniese Tuin

Welkom by die Noordwes-Universiteit se Botaniese Tuin

Die NWU Botaniese Tuin word deur die Skool vir Biologiese Wetenskappe van die Noordwes-Universiteit bestuur en is ’n lid van BGCI (Botanical Gardens Conservation International). Die Botaniese Tuin vervul talle belangrike funksies in die Skool vir Biologiese Wetenskappe en die plaaslike gemeenskappe. Belangrike aktiwiteite van die NWU Botaniese Tuin sluit in:

  • Verskaffing van praktiese materiaal vir die opleiding van studente
  • Bewaring van skaars en bedreigde plante
  • Navorsing en navorsingsondersteuning
  • Opvoeding van die plaaslike gemeenskappe oor relevante omgewingskwessies

NB KENNISGEWING:

Die NWU Botaniese Tuin en kampus sal gesluit wees vir die publiek solank vlak 1 inperking van krag is.

Chris van Niekerk
Kurator NWU Botaniese Tuin
e-mail: Chris.vanniekerk@nwu.ac.za

NWU CORONA VIRUS: http://www.nwu.ac.za/coronavirus/

 

NEEM ASB KENNIS:

Die hoof hek van die Botaniese Tuin in Calderbank Straat sal vanaf Januarie 2020 nie meer in gebruik wees nie. Toegang tot die tuin kan nou slegs verkry word deur die klein hekkie op kampus, oos van Dampas Eetsaal (sien onderstaande kaart).

Aanwysings:

  • Verkry toegang tot kampus deur Hek 1 (op die hoek van Gerrit Dekker en Steve Biko Straat)
  • Gaan voort na die parkeerarea soos aangedui op die onderstaande kaart
  • Gaan tuin binne deur die klein hekkie aan die ooste kant van Dampad Eetsaal (NWU studente en personeel kan die tuin binnegaan deur hul studente/personeel kaarte te gebruik)

 

Nuus:

Franci Greyling van die Vakgroep Skryfkuns, Skool vir Tale van die Noordwes-Universiteit het onlangs 'n navorsingsartikel getiteld "'Ek loop hier in 'n labirint'-Digitale kinderverse in 'n botaniese tuin: performatiwiteit en rasionaliteit" in Stilet gepubliseer. Die NWU Botaniese Tuin figureer deurgaans in die artikel. Sy het bygevoeg dat die NWU Botaniese Tuin 'n onontbeerlike rol gespeel het in dié navorsing. Sien onderstaande opsomming. Kontak Franci by franci.greyling@nwu.ac.za vir 'n volledige weergawe.

Opsomming van 'Ek loop hier in die labirint'-Digitale kinderverse in 'n botaniese tuin: performatiwiteit en rasionaliteit:

Plekspesifieke digitale literatuur (mobiele literatuur, lokatiewe literatuur) bied kenmerkende leeservarings wat nie noodwendig aan die hand van bestaande leesraamwerke verstaan kan word nie. In die artikel word performatiwiteit as moontlike raamwerk voorgestel om die verweefde wisselwerking kenmerkend van digitale literatuurinstallasies te verstaan. Beskou vanuit ʼn materieel-semiotiese perspektief word vier modusse van performatiwiteit (ruimtelike, ingeplaaste, tekstuele en beliggaamde performatiwiteit) ondersoek en toegepas op die kinderverse in die Byderhand plekspesifieke digitale literatuurinstallasie in die NWU Botaniese tuin. Die artikel argumenteer dat plekspesifieke digitale literatuur veelfasettig, relasioneel, dinamies en performatief van aard is, en dat die deelnemer ʼn integrale rol in die uitvoering en realisering van die werk speel.


Kort geskiedenis

Die NWU Botaniese Tuin se oorsprong strek terug na 1962, toe dr. WJ Louw, ’n Plantkunde-lektor, die tuin ontwikkel het om plantmateriaal vir Plantkunde-praktikums te verskaf. Met die koms van dr. DJ Botha, ’n Plantkunde-lektor in Taksonomie, in 1971 was die impetus daar om ’n botaniese tuin te ontwikkel. In die 1970’s het die Botaniese Tuin onder die toesig van mnr. B Ubbink, die eerste kurator, floreer. Op 24 November 1982 is die Botaniese Tuin amptelik vir die publiek oopgestel deur dr. WJ Louw. Die Botaniese Tuin geniet tans ’n groot herlewing en is beslis die moeite werd om te besoek.


Tuin en klimaat

Die Botaniese Tuin is langs die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit gele. Dit dek ’n oppervlakte van bykans 3 hektaar. Die meeste van die plante in die Botaniese Tuin is inheems, met die uitsondering van ’n paar eksotiese plante wat van botaniese, medisinale of opvoedkundige belang is. ’n Gedeelte van die tuin rondom ’n mensgemaakte rotsrif word as ’n natuurlike veldtuin bestuur, terwyl die res van die tuin meer intensief bestuur word. ’n Verskeidenheid soogdiere, voëls, amfibie en visse het die afgelope jare die tuin hulle tuiste gemaak, en verskaf ’n hele nuwe dimensie aan die Botaniese Tuin.

Potchefstroom is in ’n laagliggende gebied aan die Mooirivier in die Hoëveldstreekvan Suid-Afrika gele. Die streek word gekenmerk deur koue, droë winters met ryp wat dikwels voorkom, en warm somers met gereelde donderstorms. Die gemiddelde reënval is 767 millimeter per jaar. As gevolg van koue lug wat in hierdie laagliggende gebied afsak, is temperature so laag as minus 10 °C in die winter in die Botaniese Tuin gemeet. Hierdie uiterste klimaat het ’n groot invloed op die verskeidenheid plantspesies wat met sukses in die tuin gekweek kan word.


Besoekure

Maandae tot Vrydae: 07:30-16:00
Geen toegangsfooi (Geen groepe sonder reëlings vooraf nie)

Geen foto sessies ('Photo shoots') word in die tuin toegelaat nie!


Skakels na ander botaniese tuine:

                                          

 


Ander skakels