Geskiedenis van die Wetenskapsentrum

Potchefstroomkampus

Die Potchefstroomkampus Wetenskapsentrum is op 7 Mei 2005 deur minister M Mangena, Minister van Wetenskap en Tegnologie, geopen.

Die bekendstelling van die Nasionale Wetenskapweek in 2008 is deur die sentrum georganiseer en minister Mangena het die opening waargeneem. Meer as drieduisend mense het die bekendstelling bygewoon en dit is op nasionale televisie gebeeldsend en deur radiostasies uitgesaai.

Die sentrum bied jaarliks in samewerking met die Noordwes Onderwysdepartement die Nasionale Wetenskapsweek vir opvoedkundige instellings in die dr. Kenneth Kaundastreek aan.

Die sentrum bied programme aan wat deur die Departement Wetenskap en Tegnologie gefinansier word.

Die programme sluit in die vervaardiging van innoverende, kreatiewe eksperimente wat toepaslik is vir gebruik in wetenskapsentrums. Voorbeelde hiervan is ’n sonteleskoop, ’n motor-in-verkeer-simulator en ’n baie sterk elektromagneet (1 T). Die magneet het ongeveer 6 km koperdraad op die spoel!

Nog ’n program wat sedert 2009 aangebied word, is die astrofisika-vasvrakompetisie. Die vasvrakompetisie vir die Noordwes-provinsie word deur die sentrum gelei. In 2010 het graad 7-leerders van 36 skole in die provinsie aan die vasvra deelgeneem. Die provinsiale wenners van die nege provinsies het in ’n finale rondte teen mekaar te staan gekom.

Die sentrum dien as basis vir die ontwikkeling van eksperimente vir ander sentrums in Suid-Afrika. Sedert 2007 is apparaat wat by die NWU se wetenskapsentrum op die Potchefstroomkampus ontstaan het aan wetenskapsentrums in KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en die Noord-Kaap, en selfs oor die grens aan die wetenskapsentrum in Maseru in Lesotho, gelewer. Die jongste toevoeging is ’n wetenskapsentrum op die Mahikengkampus van die NWU. Hierdie sentrum is op 30 Augustus 2010 deur die agbare Minister Naledi Pandor, Minister van Wetenskap en Tegnologie, geopen.

Tien vrywilligers word sedert 2008 deur die sentrum gehuisves. Die vrywilligers is gegradueerdes wat nie kon werk kry nadat hulle hulle grade verwerf het nie. Hulle ontvang maandelikse stipendiums van die DWT. Hierdie vrywilligers staan die sentrum se personeel by in al hulle pligte en kry die geleentheid om verder te studeer. Een vrywilliger van die eerste inname is tans vir ’n PhD in Chemie ingeskryf.

Die sentrum is deel van ’n tweeling, waarvan die ander deel die wetenskapsentrum aan die Universiteit van Gvle in Swede is. Personeel van die Universiteit van Gvle besoek die NWU se wetenskapsentrum vir ongeveer ’n maand per jaar en omgekeerd. Hierdie besoeke word deur die Sweeds-gebaseerde Linneaus-Palme-stigting moontlik gemaak. (We have a mutual logo that can maybe inserted here.)

Die aktiwiteite van die wetenskapsentrum word bestuur deur ’n adviesraad wat jaarliks vergader. Hierdie raad, met die dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe as voorsitter, bestaan uit Universiteitspersoneel, DWT-amptenare en provinsiale verteenwoordigers.

Die beleid van die sentrum is om skeppend en innoverend te wees. Nuwe eksperimente word voordurend in samewerking met Instrumentemakery en die personeel van die Fakulteit Ingenieurswese ontwikkel.

Die Sentrum word tans deur Mev. Zelda Friesling en Prof Jan Smit bestuur.