In herdenking van Prof Giel Hattingh

Prof (JM) Johannes Michiel Hattingh

Gebore: 16 Mei 1940, oorlede: 5 November 2022

Prof Hattingh het in Parys (Vrystaat) grootgeword en was 15 jaar oud toe hy matriek geskryf het. Tydens sy eerstejaarstudies is sy pa oorlede en moes hy vir ʼn paar jaar by Sasol gaan werk. Daarna is hy terug PUK toe en voltooi die grade BSc (1962, Wiskunde en Statistiek); Hons BSc (1963, Wiskunde); MSc (1965, Statistiek) en PhD/DSc (1971, Statistiek en Operasionele Navorsing) aan die PU vir CHO.


Hierna vertrek hy en sy vrou Antoinette na die VSA waar hy onder andere navorsing doen by IBM se TJ Watson Research Center in Yorktown Heights, NY. Hulle keer in 1974 terug na die PU vir CHO (dept. Statistiek en Operasionele Navorsing). Hy word in 1975/1976 oorgeplaas as professor na Vanderbijlpark om saam met twee ander akademici ʼn basis te vorm vir dit wat later die Vaaldriehoekkampus sou word – tot op daardie stadium was na-uurse klasse daar aangebied deur personeel van verskeie departemente wat vanaf Potchefstroom gependel het.


Ongeveer 1981 verhuis hy terug Potchefstroom toe as Direkteur van Rekenaardienste (ITB) en word later bevorder tot die pos van Hoofdirekteur binne die universiteit se wyer bestuursmodel. In 1990 keer hy terug na die akademie en wel as personeellid/professor binne die departement Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels. Vanaf 1991 is hy die departementshoof tot die stigting van die skool vir Rekenaar-, Statistiese en Wiskundige Wetenskappe. Alhoewel hy toe amptelik afgetree het, was hy steeds vir baie jare betrokke by die departement se nagraadse onderrig- en navorsingsprogramme.


Gedurende sy betrokkenheid by Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels het hy die departement ingelei en gevestig as ʼn navorsingsgerigte omgewing en was hy die studieleier en promotor vir talle M- en PhD-studente. Daarby het hy onder andere leiding geneem by die Telkom Centre of Excellence en het wêreldwyd konferensies saam met sy studente bygewoon.


Hierdie is ʼn bondige opsomming van Michiel/Giel Hattingh se bydrae en betrokkenheid by die universiteit en “ons” departement. Dankie aan Antoinette, Christiaan en Karien dat ons hom met julle kon deel. Mag julle vertroos word in hierdie baie hartseertyd.