Oor Ons

Welkom by die Laboratorium vir Elektronmikroskopie

Die Laboratorium vir elektronmikroskopie (LEM) ressorteer onder die CHV (Chemiese Hulpbronveredeling) in die Fakulteit Natuurwetenskappe. Die LEM word gehuisves op die grondvloer, Blok A van die Natuurwetenskappe Kompleks. Die fasiliteit bestaan uit twee elektronmikroskope, ʼn transmissie- (TEM) en ʼn omgewings-skandeerelektronmikroskoop (ESEM), ʼn fluoressensie mikroskoop asook verskeie ligmikroskope en randapparate wat gebruik word in die voorbereiding van materiaal en verkryging van resultate van projekte en navorsing.

 

Kern doelwitte van die LEM

Die LEM gee advies en opleiding aan studente en personeel van die Universiteit oor die voorbereiding van materiaal, die hantering van die apparate asook die interpretasie van resultate. ʼn Diens word ook gaan instansies buite die universiteit  gelewer waarvoor tariewe gehef word.

Die gebruikers van die LEM sluit in studente en personeel van die skole uit die fakulteite Natuurwetenskappe, Ingenieurswese en Farmasie. Voorgraadse studente in klein groepies ondergaan in groepsverband blootstellingssessies om hulle bewus te maak van die toepassings moontlikhede van elektron- en gewone mikroskopie in hulle vakgebied.  Aangesien dit ʼn spesialis diens is, word met tweede en derdejaarsprojekte, die groepe verklein na twee tot vier studente.  In die geval van vierdejaars-, honneurs, meesters en doktorale studente word die opleiding en hulp op ʼn 1:1 basis gedoen. Indien  die projek van so ʼn omvang is dat die student oor ʼn lang tydperk van die fasiliteite gebruik gaan maak, word meer intensiewe opleiding verskaf sodat die student enige tyd die fasiliteite onafhanklik kan gebruik, ook na-ure  deur sessies te bespreek op die rooster.

Om die hoë kwaliteit van diens te verseker, is die hoof van die LEM voortdurend besig met tegniekontwikkeling en is betrokke by navorsingsprojekte saam met kollegas en ander navorsers, plaaslik in Suid-Afrika maar ook buitelands.