Stads- en Streekbeplanning

Wat is Stads- en Streekbeplanning?

Beplanning is ʼn dinamiese professie wat streef na die verbetering van die welvaart van mense en hulle verwante gemeenskappe deur gemaklike, gelyke, gesonde, effektiewe en aantreklike leefomgewings te skep vir huidige en toekomstige generasies. Stads- en Streekbeplanning handel oor die beplanning, ontwerp, implementering en bestuur van alle fasette van ontwikkeling en grondgebruike van plaaslike tot en met nasionale vlak. Die doel van die beplanner is om gelykheid te bevorder en volhoubare ontwikkeling te stimuleer. Die ideale Stads- en Streekbeplanner is ʼn kreatiewe persoon wat met innoverende oplossings vorendag kan kom om komplekse probleme op te los.

Die kwalifikasie Stads- en Streekbeplanning is ʼn vier (4) jaar BSc graad wat beide teoretiese en praktiese opleiding bied. Na voltooiing van die kwalifikasie ontvang studente die graad BSc Stads- en Streekbeplanning wat ʼn professionele SACPLAN geakkrediteerde voorgraadse kwalifikasie is. Studente kan daarna ook aansoek doen vir ʼn nagraadse studie (MSc of PhD) in Beplanning.  

Die kwalifikasie bestaan uit net een program (Stads- en Streekbeplanning – 118101: N183P) en toelating tot die kwalifikasie is onderhewig aan ʼn keuringsproses, wat beteken dat studente hulle aansoeke om toelating, moet indien voor 30 Junie elke jaar. ʼn Maksimum van dertig (30) studente word jaarliks tot die kwalifikasie toegelaat. Voornemende studente moet aan die minimum voorvereistes (soos beskryf in die volgende afdeling) voldoen, wat die aflê van ʼn keuringstoets insluit. 

Stads- en Streekbeplanning het ook hulle eie Akademiese Studente Vereeniging genoem BSV.