Oor Ons

Welkom by die Skool vir Biologiese Wetenskappe

Ons visie by die Skool vir Biologiese Wetenskappe is om relevante, waardegedrewe opleiding en navorsing van internasionale gehalte, wat op ons bestaande kundigheid in die veld van omgewingswetenskappe fokus, te lewer. Ons bied ook ’n unieke BSc-graad in Toerisme aan. Hier word die vakdissiplines van Dierkunde, Plantkunde en Geografie met Toerisme gekombineer. Die struktuur van die Skool bestaan uit die drie vakgroepe in die basiese biologiese wetenskappe, naamlik Dierkunde, Mikrobiologie en Plantkunde. Die akademiese personeel in hierdie drie vakgroepe het uitstekende vaardighede, almal beskik oor ’n PhD-graad en die meerderheid is deur die NNS (Nasionale Navorsingstigting) as navorsers geëvalueer.

Ons verskillende honneursprogramme bied vir studente 'n unieke reeks dissiplines om die basis te vorm vir omvattende multidissiplinêre opleiding en navorsing. Dit rus studente toe om afgeronde wetenskaplikes te word. Ons Mahikengkampus bied honneursgrade in Mikrobiologie en Plantkunde aan, terwyl ons Potchefstroomkampus ʼn Honneurs in Omgewingswetenskappe met verskeie subprogramme bied. Die subprogramme sluit in: Ekologiese Interaksies en Ekosisteem Veerkragtigheid; Biodiversiteit en Bewaringsekologie; Akwatiese Ekosisteemwelstand; en Geïntegreerde Plaagbestuur. Al vier hierdie kurrikulums het 'n onderbou in omgewingsbestuur, wat ons gegradueerdes gesog maak in die werksmark.

Omgewingswetenskaplikes werk as fundamentele bioloë en akademici, navorsers, natuurbewaarders, grasveldbestuurders, omgewingsbestuurders, omgewingskonsultante, impak-assessors, asook binne die toerismebedryf.